Finansies

SKOOLGELD

Skoolgeld word, by wyse van stemming, vasgestel tydens ‘n jaarlikse ouervergadering wat ingevolge Artikel 38(2) van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 vereis word. Ouers wat die vergadering bywoon, vorm ‘n kworum.

Tydens die ouervergadering, gehou op 24 Oktober 2025, is bepaal dat Laerskool Mariepskop ‘n skoolgeld betalende skool is, wat teweegbring dat skoolgeld maandeliks gehef sal word en deur beide ouers vooruit betaalbaar is (volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996).

Betaling van skoolgeld moet in 12 paaiemente, maandeliks voor die 7de van elke maand geskied. Januarie se betaling gedurende die eerste week van skool en die laaste betaling dan teen 7 November.

Die skoolgeld word deur die Beheerliggaam en in besonder deur ‘n finansiële komitee beheer. Die finansiële state word jaarliks deur ‘n ouditeursfirma geoudit en verslae word aan die onderwysowerheid voorgelê. Verslae is ook ter insae vir die ouers by die skool beskikbaar.

Skoolgelde word onder andere aangewend vir:

  • die aankoop van leersteunmateriaal
  • die instandhouding en ontwikkeling van fasiliteite
  • die bedryfsuitgawes van die skool
  • die verskaffing en instandhouding van sport- en kultuurgeriewe
  • die terreinverbetering, verfraaiing en instandhouding van geboue en terreine

NEEM KENNIS

WYSE VAN BETALING

U moet asseblief u kind se familiekode as verwysing gebruik. Betalings kan op die volgende wyse gedoen word: 

EFT: Laerskool Mariepskop, FNB Takkode 270652, Tjekrekening 52390010356

Verwysing (skoolgeld): Familiekode (wat op die rekening verskyn) + u Van

Kontak Lydia Louw (finansies@laerskoolmariepskop.co.za) / Ruan Erasmus (Tesourier) (ruan@citrx.co.za) indien u enige navrae oor skoolfonds of u rekening het.

VRYSTELLING VAN SKOOLGELD

Ouers wat kwalifiseer vir gedeeltelike, volle of voorwaardelike skoolgeldvrystelling (graad 1 tot -7), soos bepaal deur die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996, kan vanaf 12 Januarie 2026 dié vorms by Lydia Louw (finansies@laerskoolmariepskop.co.za) kom afhaal vir voltooiing. Ons sal graag die proses wil finaliseer teen 20 Maart 2026.  U samewerking in dié verband sal hoog op prys gestel word.

INVORDERING VAN SKOOLGELD

Volgens Artikel 40 van die Suid Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 word BEIDE ouers (wetlik) verplig om skoolgeld te betaal – dit is dus ‘n statutêre uitgawe . Die skool mag regstappe neem ter invordering van uitstaande/agterstallige skoolgeld.

Indien ‘n rekening nie maandeliks betaal kan word nie, moet ‘n skriftelike reëling met Lydia Louw (finansies@laerskoolmariepskop.co.za) of Ruan Erasmus (Tesourier) (ruan@citrx.co.za) getref word. 

Dit is u plig om die skool te nader om die nodige reëlings te tref en die skool se databasis te laat aanpas soos u inligting verander .

Die debiteure invorderingsproses ter inligting:

Rekeninge word maandeliks rondom die 26ste per e-pos aan u gestuur.

Indien u rekening nie betaal is teen die 7e van die maand nie, begin die invorderingsproses.

Indien u rekening 30 dae agterstallig is, sal u deur Lydia Louw (finansies@laerskoolmariepskop.co.za) gekontak word.

Indien u rekening 60 dae agterstallig is, sal u ‘n aanmaning ontvang. Indien u nie hierop reageer deur ‘n betaling te maak of ‘n skriftelike reëling te tref nie, sal u die gevaar loop van regsaksie wat negatiewe notering (swartlys) insluit.

In beide gevalle word daar ‘n SMS aan u gestuur om u in te lig van die situasie en die brief wat volg.

Indien u nie u reëlings nakom nie, of geensins reageer op die aanmaningsbrief binne die genoemde tyd nie, sal ons sonder verdere kennisgewing voortgaan met die nodige regsaksie wat oorhandiging aan ons invorderaars of direkte dagvaarding vir die uitstaande geld sal insluit.

LEERDERS WAT DIE SKOOL VERLAAT (Babahuis – Gr.7)

Indien ‘n ouer ‘n leerder uit die skool haal moet ‘n e-pos aan Carien de Lange (admin@laerskoolmariepskop.co.za) asook Lydia Louw (finansies@laerskoolmariepskop.co.za)gestuur word. 

KLEUTERSKOOL – SKOOLGELD (Babahuis – Gr.R)

Die Skolewet is tans slegs op skoolpligtige leerders van toepassing; m.a.w. u kan NIE aansoek doen vir vrystelling vir graad RR en R-leerders nie .

Bogenoemde proses sal ook gevolg word vir wanbetalers.

Leerders wie se skoolgeld nie betaal is nie, kan hul plek in die Kleuterskool verbeur en sal dan weer onderaan die waglys geplaas word.