- 079 529 6071
- admin@laerskoolmariepskop.co.za
- Mare Straat, Kampersrus Hoedspruit
Aan die voet van die Mariepskopberge lê ’n plek waar leer ’n avontuur is, waar modder, stokke, grassies en blommetjies gereed staan vir pouse-denne en feetjie huisies, waar kinders se tone nog kaal die grond kan voel.
Dis nie net ’n skool nie – dis ’n #LEKKERPLEKKIE vir die kleingoed. Tussen die bome en berge speel klein voetjies hulself slim. Ons Super M’etjies leer deur te lag, woeker, bou, mors en vrae te vra. Elke fase van ontwikkeling word by ons gekoester – van baba ’s tot graad R’e.
Hier by Mariepskop Kleuterskool glo ons dat kinders met hul hele lyfie, hart en kop leer. Dis hoekom ons fokus op heelkind-ontwikkeling – nie net slimkoppies nie, maar ook sterk harte en hande wat vir niks verkeerd staan nie. Elke dag is ’n nuwe avontuur waarin ons hul natuurlike nuuskierigheid vier en aanmoedig.
Ons glo dat elke kleuter ‘n geskenk is en dat elke kind ’n veilige, liefdevolle plek om te groei, leer en speel verdien. Ons is ’n trots Afrikaanse kleuterskool wat Christelike waardes leef en uitleef. Hier bid ons saam, lag ons saam en leer ons saam.
Toelating is oop vir alle ouderdomsgroepe van 0 tot 6 jaar, mits die betrokke klassie nie reeds vol is nie. Ons poog altyd om plek te maak vir nuwe maatjies, maar klasgetalle per groepie word streng beheer om kwaliteit en aandag te verseker.
Ouers is hartlik welkom om kuierdae te reël, sodat julle en julle kleingoed ons #LEKKERPLEKKIE self kan kom beleef.
Ons bied verskeie pakkette aan, aangepas vir verskillende behoeftes:
Vir inskrywingsvorms, pakkette en verdere navrae, kontak gerus Mariepskop Kleuterskool se kantoor – ons is altyd gereed om te help en jou welkom te laat voel.
Hier laat ons wortels diep groei – en drome hoog vlieg!